Jesaja 13

Hierdie profesie vertel van Jesaja, wat geleef het in die agste eeu v.C., wat profeteer dat Babilon teen Juda sou opstaan en Juda sou vernietig in die sesde eeu v.C. en hoe God ʼn mag sal oproep teen Babilon en Babilon sou vernietig. Net soos in Jeremia 46-51 en Esegiël 25-32 word Jesaja se profesieë aangaande die res van die wêreld se oordeel saam gegroepeer. God sou beheer uitoefen oor elke volk en nasie en net soos hulle deur Hom tot stand gebring word, word hulle ook deur Hom beëindig. Hierdie sekerheid is waarin die gelowige sy troos en vrede vind. So baie bely dat God in beheer is van die wêreld en die wêreldgeskiedenis en tog is hulle vasgevang in vrees en bewe hulle vir die kleinste verandering waarvoor hulle te staan kom asof mense in beheer is. Die profesieë vertel aan die gelowige dat dit wat nou plaasvind deur ʼn soewereine God bepaal is en dat alles presies sal uitspeel soos Hy beplan het. Al sou hierdie waarskuwing aangaande  die nasies rondom Israel die nasies nooit self bereik nie, sou dit, wanneer dit plaasvind, vir Israel ʼn vertroosting wees dat God regverdig en soewerein is.

Straf

God profeteer dat Hy Israel se vyande sal straf en Hy begin in hierdie gedeelte met Babilon. Israel moes hierdeur besef dat as God ʼn goddelose nasie straf, wat God se gebooie nie ken nie, hoeveel te meer sou Hy  ʼn rebelse nasie straf aan wie Hy sy opdragte bekend gemaak het.  Lukas 12:47 Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. God se straf sou altyd eers by sy eie huis begin en vandaar ook na al die ander nasies beweeg. 1 Petrus 4:17 Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? So sien ons hoe God Ananias en Safira straf as hulle van die geld van die verkoop van hul eiendom wegsteek en vir die gemeente lieg deur te sê dat hulle al die geld vir die Here gebring het. Individue in die Korintiër gemeente word ook deur God gestraf omdat hulle die nagmaal verkeerd gebruik deurdat die rykes hulle ooreet en te veel drink terwyl die armes nie genoeg kry nie. 1 Korinthiërs 11:21 want elkeen gaan voort om sy eie maaltyd te eet, en een bly honger, en ‘n ander word dronk. Daarom het God hierdie gemeente gestraf. 1 Korinthiërs 11:30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en siekes, en ‘n hele paar het reeds ontslaap.

God straf Babilon en roep Babilon se vyand op tot ʼn magtige weermag om hulle te vernietig. Hy sal al die edeles en vooraanstaandes van die land tot ʼn val bring. Die akkurate voorspelling van die inval van die Mede en die Perse op Babilon is verstommend. “…hulle sal intrek deur die poorte van die edeles”. Ons weet dat die Mede en Perse net deur die poorte van die Babiloniërs inbeweeg het en hulle oorwin het in die nag waarop die hele land fees gevier het en dronk was. Ons lees hierdie verhaal in Daniel 5.

God se plan

God sal die geheiligdes bring om sy plan uit te voer. Hulle is nie heiliges a.g.v. hulle karakter nie, maar omdat hulle deur God afgesonder is vir goddelike diens, nl. om sy vonnis te voltrek. So sou God ook praat van sy dienskneg Nebukadnesar en tog sou God hom nie net gebruik nie, maar ook straf vir sy arrogansie deur hom gras te laat vreet soos ʼn dier. God gebruik selfs die ongeredde om Homself te verheerlik as Hy sy plan deur hulle uitvoer. Elke persoon op aarde, selfs diegene wat leef volgens hul eie planne en begeertes, is besig om God te verheerlik en Sy plan in vervulling te laat gaan, want God is in beheer en gebruik selfs hulle eie begeertes. Dit het ons ook gesien in Jesaja 10 met die Assiriese magte. Jesaja 10:5 Wee Assirië, die stok van my toorn! My verontwaardiging – ‘n staf is dit in hulle hand. Hulle is slegs werktuie van sy grimmigheid. Hy verdra hulle solank Hy sy plan en doel met hulle bereik, so word elke goddelose deur Paulus beskryf in Romeine. Romeine 9:22 As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak.

Die dag van die Here

Wanneer die dag van die Here aanbreek sal die mens in angs en vrees vasgevang wees. Mense is baie keer so vol bravade, asof hulle vir ewig sal leef en daar geen dag van rekenskap sal wees nie. Net soos daar ʼn dag van wraak vir die mense van Babilon sou aanbreek so sal daar ook ʼn dag van ewige wraak aanbreek vir die goddelose bewoners van die aarde. Die Babiloniërs het gedink daar is vrede en veiligheid vir hulle. Net so sal dit ook wees met die koms van die Here as mense sal sê vrede en veiligheid. 1 Tessalonisense 5:3 Wanneer hulle sê, Daar is vrede en veiligheid, kom daar skielik vernietiging oor hulle, soos geboortepyne ‘n swanger vrou oorval, en hulle sal beslis nie ontkom nie. Hierdie sal ʼn vreesaanjaende dag wees waarop hulle sal vra dat die berge hulle sal bedek van die aangesig van Hom wat sal kom op die wolke. Openbaring 6:16 Hulle het na die berge en kranse geroep: Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam. Ons kan sien uit vers 9 dat die wraak waarvan Jesaja praat ʼn wraak is wat ook op die laaste dae sinspeel. Jesaja 13:9 Kyk, die dag van die Here is aan die kom – wreed, vol gramskap en brandende toorn – om die aarde ‘n skrikbeeld te maak, en die sondaars van die aarde daarvan af uit te delg. Die dag van die Here sal beslis nie vir die goddelose ʼn dag vol vreugde en blydskap wees nie net so min as wat die dag van die Here vir Babilon ʼn dag van vreugde was. Psalm18:26-27 By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg, by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd. Baie goddeloses het in die dag van Amos uitgesien na die dag van die Here. Hulle het met vreugde gepraat van hierdie wonderlike dag. Hierop waarsku Amos hulle dat daar geen vreugde vir hulle sal wees in die Dag van die Here nie. Amos 5:18-19 Wee dié wat uitsien na die dag van die Here. Wat hou dit vir julle in?Die dag van die Here is duisternis, nie lig nie, soos wanneer iemand vlug vir ‘n leeu, maar ‘n beer val hom aan. As hy wel in die huis kom en met sy hand teen die muur leun, dan pik ‘n slang hom. So is dit vandag nog met so baie mense wat goddeloos lewe en geen begeerte het om God se Woord te gehoorsaam nie en tog vertel hoe hulle uitsien dat die Here hulle moet kom haal. Watter ontnugtering wag nie vir hulle nie?! Elkeen wat dink dat hulle op aarde in ongehoorsaamheid aan God se opdragte kan leef en met vreugde die Here sal ontvang, gaan ontnugter word op die dag van Sy wederkoms. Dat ons hier praat van ʼn straf wat groter is as die straf van Babel word ook gewys as die straf gepaardgaan met die hemelliggame wat tot ʼn einde kom. Babilon is simbolies van al die goddeloosheid en afgodery van die begin van die tye, as die mense in Genesis 11 ʼn toring wil bou tot aan die einde van Openbaring. Die vernietiging van  Babilon is dus nie net ʼn fisiese gebeurtenis nie, maar word ook ʼn simbool van die vernietiging van alle boosheid wanneer dit in Openbaring verwoes word.

Liefde vir self

Babilon verteenwoordig die mens wat arrogant is en dink dat hy beter as God weet en sy dag nooit tot ʼn einde sal kom nie. Dit is ʼn gesindheid in Genesis 11 van mense wat sê: “laat ons vir ons ʼn naam maak.” Dit is ʼn Babiloniese koning wat op sy koninklike paleis rondwandel en vir homself sê “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” Daniel 4:30. So verduidelik Paulus ook aan Timotheüs dat die mense van die laaste dae vol sal wees van hulleself. 2 Timoteus 3:1-2 Dit moet jy weet: In die laaste dae gaan daar moeilike tye kom; want die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig, aanmatigend, godslasterlik, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, goddeloos. Die sielkunde van die dag is dat ons net ʼn beter selfbeeld moet hê en moet besef hoeveel potensiaal ons het en wat ons kan vermag. Daarteenoor sê die Bybel dat die probleem nie is dat die mens te min van homself dink nie, maar te veel. As Jesus praat oor ons naaste wat ons moet liefhê vergelyk hy die liefde wat ons vir ons naaste moet hê soos volg. Matteus 19:19 …jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Jesus vertel dat geen mens die probleem het dat hy nie selfliefde het nie, maar eerder dat hy te veel het. Mense wat die grootste sogenaamde selfbeeld probleme het is dus nie individue wat hulleself te min lief het nie, maar eerder mense wat ʼn beheptheid het met hulself. Ons het nooit die idee dat ons slegter verdien nie, of dat ons bevoorreg is nie, maar eerder dat ons beter verdien en dat die “wêreld” dit aan ons skuld om ons beter te behandel.

Goud en silwer

Verder sal God die bewoners van Babilon verdelg en baie min van hulle sal oorbly. Almal sal uitgewis word – volwassenes en kinders. Niemand sal hulle beskerm nie en selfs die soldate wat hulle van ander lande gebring het om Babilon te beskerm sal terug hardloop – elkeen na sy eie volk. Niks of niemand sal hulle in daardie dag kan beskerm nie. Die Meders word beskrywe as mense wat nie ag slaan op silwer of belangstel in goud nie. Dit was beslis nie omdat hulle nie goud en silwer versamel het nie, maar dat geen besitting vir hulle gegee sal kan word as omkoopgeld om die mense van Babilon te spaar nie. Al julle besitting sal julle nie kan red in daardie dag nie. Dit is wat Jesaja ook vroeër voorspel het wanneer hy verwys het na die dag wanneer die mense in die spelonke van die rotse en in die gate vanweë die skrik van die Here sal vlug. Jesaja 2:20-21 Op daardie dag sal mense hulle nuttelose afgode van silwer en hulle nuttelose afgode van goud wat hulle vir hulleself gemaak het om in aanbidding voor te buig, wegwerp vir die rotte en vlermuise – om dan in rotsskeure en holkranse skuil te gaan uit vrees vir die Here, vanweë sy verhewe glansrykheid, wanneer Hy opstaan om die aarde te verskrik. Babilon sou totaal verwoes word en net wilde diere sal daarin leef. Dit is net so vervul en as ons vandag na die plek gaan waar Babel gestaan het vind ons dat dit vir meer as 2500 jaar onbewoon is en dat in die ruïnes van Babilon slegs wilde diere woon.

Daar sal ʼn dag aanbreek wanneer die wêreld, wat beskrywe word as Babilon in Openbaring 18, sal optrek in ʼn finale veldslag en totaal vernietig sal word deur die Lam. Die oorwinning sal behaal word en ʼn engel sal die voëls van die hemel oproep om fees te vier op die aardbewoners. Openbaring 19:17-18 En ek het een engel in die son sien staan. Hy het met ‘n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat hoog in die lug rondvlieg, gesê: “Kom hierheen, trek saam na die groot feesmaal van God, om die vleis van die konings en die vleis van die chiliarge te eet, die vleis van magtiges en die vleis van perde en hulle ruiters, die vleis van almal – vry mense sowel as slawe, geringes sowel as magtiges.” Wat sal jy kan gee as losprys vir jou siel. Net so min as wat die geld en besitting vir die Babiloniërs van enige betekenis was op die dag van die aanval van die Meders, net so min sal dit van enige waarde wees vir diegene wat sal leef in die dag as die Here verskyn – of die dag waarop jy hierdie wêreld verlaat en voor die Here staan. Mattheus 16:26  Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?

Slot

Hierdie lewe is net tydelik, die werklikheid is die ewigheid wat vir elke gelowige voorberei word. Ons leef so dikwels asof hierdie wêreld alles is, asof ons vir ewig gaan leef. Wat as vandag jou laaste dag op aarde is? Die meeste wat hierdie blog lees sal wil getuig dat hulle uitsien na daardie dag, maar is jy besig om in sonde te volhard? Is jou lewe vol ligsinnig praatjies, of is God nou alreeds die Here oor jou lewe? Jaag jy na wind hier op aarde of is jou skat in die hemel en is Sy naam Jesus Christus? Dit is voor Hom en voor Hom alleen wat jy hier jou knie moet buig, nie uit vrees vir die toorn wat ons weet verseker kom nie, maar uit dankbaarheid dat Hy deur Sy bloed hierdie toorn, wat jy en ek verdien, alreeds op Hom geneem het en ons nou in ware vrede en vreugde, met opwinding, kan uitsien na die “Dag van die Here”