Jesaja 10:20-34

Inleiding

Israel het hulle vertroue op sterk magte en heersers geplaas en God sou hulle straf omdat hulle nie hulle vertroue in Hom geplaas het nie. In hierdie verse sien ons hoe God se genade deurbreek.  Die oorblywendes van die volk sal hulle vertroue in God plaas. Die belofte wat God gemaak het in die naam van Jesaja se seun sal hier in vervulling gaan. Sy naam is Sjear Ja-sjub –  ʼn oorblyfsel sal terugkeer. Jesaja het beleef dat die God wat in Sy heiligheid oordeel, ook die God is wat vergewe en herstel. Hierdie volk moes eers deur lyding en verwerping gaan om te besef dat hulle vertroue net in God moet wees.

Die oorblyfsel – Sy uitverkorenes

Die volk sou terugkeer na die Magtige God (El gibbôr). Dit is dieselfde naam wat die seun wat gebore sal word waarvan ons in hoofstuk 9:5 lees, genoem word. Net Hy is magtig en ons vertroue mag net in Hom wees. Hier sal Hy die oorblyfsel, en dus die uitverkorenes van die volk, verlos as die magtige God, maar hierdie magtige God sal ook in ʼn stal gebore word om Sy uitverkorenes te verlos aan die kruis. Hosea profeteer ook van hierdie oorblyfsel van die volk wat in die laaste dae weer hulle vertroue in God sal plaas.  Hosea 3:5 Daarna sal die Israeliete terugkeer en die Here, hulle God, soek, en Dawid, hulle koning. Ja, hulle sal bewend na die Here gaan, en na sy goedheid in die laaste dae. Dit is die herstel waarvan Paulus praat wat aan die einde van die dae sal plaasvind wanneer ʼn klein oorblyfsel van Israel weer sal terugkeer na Christus, die koning wat op die troon van Dawid sit. Romeine 11:26 Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid  uit Jakob verwyder.

In vers 22 verduidelik Jesaja hierdie begrip van ʼn oorblyfsel nog verder. Hy vertel hulle dat al is hulle getalle nou soos die sand van die see, net ʼn oorblyfsel gered sal word. Die uitdrukking van hulle getal as “soos die sand van die see” was ʼn belofte wat God vir Abraham gemaak het. Genesis 22:17 sal Ek jou ryklik seën, en jou nageslag so geweldig vermeerder soos die sterre aan die hemelruim en soos die sand wat langs die seestrand is. Jou nageslag sal die stadspoorte van hulle vyande in besit neem. Ons kan dink hoe die volk hulle vertroue in hierdie belofte geplaas het en gedink het dat God hulle sal bewaar omdat hulle nasate van Abraham is, ongeag hoe hulle gelewe het. Deur die geskiedenis van die Ou Testament en deur die geskiedenis van die kerk het God nog altyd ʼn oorblyfsel van die Joodse volk behoue laat bly. Dit is vandag nog so dat die meerderheid van Jode steeds hul vertroue in hulle etnisiteit en afkoms plaas in plaas van in Christus. Ons weet egter, volgens die beloftes in die Ou en Nuwe Testament,  dat daar ʼn dag sal kom wanneer hulle weer vernietig sal word en net ʼn oorblyfsel sal oorbly. Sagaria 13:8 In die hele land sal dit gebeur, is die uitspraak van die Here, twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en ‘n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos ‘n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, Hulle is my volk, en hulle sal sê, Die Here is ons God. Dit is dan ook wat belowe word in Openbaring en deur Paulus in Romeine 11. Net soos die koning van Assirië deur God gebruik is om hierdie volk te straf, sal God ook weer aan die einde van dae die Antichris gebruik. Sý einde word deur Daniël voorspel, wanneer hy, net soos die koning van Assirië, deur God tot ʼn einde gebring word. Daniël 11:36 Die koning sal doen wat hy wil. Hy sal homself verhef en hom groot waan teen elke god; en teen die God van die gode sal hy verstommende dinge kwytraak. Hy sal voorspoedig wees totdat die vervloeking tot ‘n einde kom, want dit is vooruitbepaal; dit sal uitgevoer word. Dit sal die dag wees wanneer die volk sal besef wat hulle aan Christus gedoen het en daaroor sal treur. Sagaria 12:10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek ‘n gees van genade en ‘n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos ‘n mens rou oor ‘n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos ‘n mens huil oor ‘n eersgebore kind.

Moenie vrees nie

Vanaf vers 24 fokus Jesaja nou meer op Sion, die land van Juda. Hy roep die volk op om nie te vrees nie. Ons dink terug aan die belofte in vers 19 dat hierdie magtige Assiriese volk so deur God vernietig sal word dat ʼn seuntjie hulle sal kan tel. Die opdrag aan die gelowige om nie te vrees nie kom regdeur die Bybel voor. Jesaja sal hierdie opdrag ook vir Hiskia gee as die weermag van die Assiriërs rondom Jerusalem stelling ingeneem het. Jesaja 37:5-6 Toe die dienaars van koning Hiskia by Jesaja aankom, sê Jesaja vir hulle: So moet julle vir julle heer sê, So sê die Here: Moenie bang wees vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die onderdane van die koning van Assirië My belaster het nie. So roep Jesus ook sy volgelinge op om nie te vrees nie, aangesien die koninkryk aan hulle belowe is. Lukas 12:32 Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. Wat Juda moes onthou is dat hoewel God nie belowe dat Assirië hulle nie gaan aanval en vermoor nie, Hy in beheer is en niks sonder Sy goedkeuring sal plaasvind nie. Net so moet elke gelowige onthou dat God nie belowe dat ons gevrywaar word van siekte, peste, oorloë en hartseer nie, maar wel dat, ten spyte hiervan, God in beheer is. Die Assiriërs sou vir ongeveer dertig jaar ʼn bedreiging wees, maar dertig jaar in terme van ʼn professie is ʼn baie kort periode. Ons as gelowiges is ewigheidswesens wat vanuit hierdie perspektief alles op aarde moet bejeën. Ons eie lewens is soos ʼn breukdeel van ʼn sekonde verby en spoed na ʼn einde. So sal dit ook wees met diegene wat ons bedreig en ons vervolg. Psalms 37:1-2 Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor die kwaaddoeners nie; moenie afgunstig wees op hulle wat kwaadwillig optree nie, want soos gras  verdor hulle vinnig, en soos groen plante verwelk hulle. Niks wat ons op aarde deurgaan kan vergelyk of opgeweeg word teen ons heuglike erfenis in die Hemel nie. Romeine 8:18 Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie.

Onthou

God roep deur die profeet beelde uit die verlede op toe God vyande van die volk vernietig het. Die eerste waaraan Hy hulle herinner is hoe Gideon met die klein weermag van 300 man die magtige Midianiete verslaan het en een van hulle heersers Oreb by die rots van Oreb verslaan het. Rigters 7:25 Hulle het die twee •aanvoerders van die Midianiete, Oreb en Seëb, gevang. Hulle het Oreb doodgemaak by die rots van Oreb, en Seëb het hulle doodgemaak by die parskuip van Seëb. Hulle het die Midianiete agtervolg, en die koppe van Oreb en Seëb het hulle na Gideon gebring van oorkant die Jordaan af. Die tweede beeld is ʼn vroeër gebeurtenis toe God die Rooisee laat toegaan het oor die Egiptiese soldate en toe almal wat teen Israel opgetrek het verwoes is in die see. Hier word dit bevestig dat die staf wat die water oor die Egiptenare laat vloei het nie in Moses se hand was nie maar in God se hand, net soos dit ook sal wees wanneer Hy die Assiriërs gaan vernietig. As gelowiges moet ons gereeld die magtige dade van die Here in die Skrif in herinnering roep. So ook is dit belangrik om ʼn persoonlike getuienis te hê van God se voorsiening in jou eie lewe en om jouself daaraan te herinner in moeilike tye.

“Vettigheid”

God sal die swaar juk wat op die Jode rus wegneem a.g.v. die “vettigheid”. Die Hebreeuse woord beteken vet of olie. Dit is baie interessant dat Paulus aan die heidense gelowiges ʼn waarskuwing gee dat hulle nie teen die takke, wat die Jode is, moet roem nie aangesien hulle ingeënt is op die olyfboom en deel gekry het aan die “vettigheid.” Romeine 11:17 En as ‘n aantal van die takke van die mak olyfboom uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het. Hierdie vettigheid of olie het te make met die verbond van God met Israel en het sy volle vervulling in die Messias wat sou kom vir mense van alle nasies. In Hom sal die sonde se juk verbreek word en sal ons vrykom van die sonde en die Satan se las. Dus is hierdie nie net ʼn voorspelling van die verligting wat sal kom met die vernietiging van die Assiriese magte nie, maar ook van die vyand wie se kop Christus sal vermorsel.

Die opvolgende verse vertel hoe die Assiriese mag Juda sou aanval en hulle opmars na Jerusalem. Hulle kom in die Noordelike deel van Benjamin die land Juda binne. Al die dorpe skreeu van vrees en vlug voor die Assiriese magte. Hulle sou alles vernietig en dan hul oë rig op Jerusalem, met die berg Sion waar die tempel van God is, om dit ook te vernietig. Die profesie wil aan elkeen vertel hoe groot God se genade is, aangesien niks staande kon bly voor hierdie mag nie. Juda sou gered word soos ʼn lam wat uitgeruk word uit die tande van ʼn leeu. Assirië word in die Bybel beskrywe as ʼn seder in die Libanon berg. Esegiël 31:3 Kyk, Assirië was ‘n seder op die Libanon met mooi takke wat die woud  oorskadu; sy hoogte was geweldig, en tussen die wolke sy top. Hierdie boom sal val deur die Heerlike, naamlik deur God. God beskrywe hoe Hy hierdie groot boom met sy sterk takke met geweld sal vernietig. Die skokkende is dat Jesaja se profesie verkondig en neergeskryf is lank voor hierdie gebeure en tog, as dit in vervulling gaan, is die inwoners van Jerusalem met vrees gevul.

Slot

Waarom vind ons onsself so maklike in die plek van angs terwyl daar soveel beloftes van God in die Woord is. Ons is soos die apostels wat, nadat hulle die eerste en die tweede vermeerdering van die brood beleef het, nog steeds, toe Jesus praat oor die suurdeeg van die Fariseërs, bekommerd is dat Hy hulle aanspreek omdat hulle nie brood saam gebring het nie. Hierop wys Jesus hulle dan tereg en spreek hulle aan as kleingelowiges. Matteus 16:8-10 Jesus het dit agtergekom en gesê: “Kleingelowiges, waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie die vyf brode vir die vyfduisend en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie? Of die sewe brode vir die vierduisend, en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie?  Jy as gelowige, ʼn uitverkorene, het deel gekry van die vettigheid. In Christus, die gesalfde, is jy ook met olie gesalf en erfgename, seuns en dogters, van die Vader gemaak. Wat is daar wat jou angstig maak? Jesaja 41:9-10 jy, die een wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde af, wat Ek van sy verste dele af geroep het, vir jou het Ek gesê, Jy is my dienskneg! Ek het jou uitgekies, jou nie verwerp nie. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand.