Inleiding
Die ware profete van die Bybel en ware geestelike leiers vandag is dikwels alleenlopers in hierdie wêreld. Hulle lyk anders en mense bejeën hulle met agterdog. Dit is nie omdat hulle lewens enigsins korrup is of omdat hulle nie mense is wat met ander oor die weg kan kom nie, maar omdat die boodskap wat hulle verkondig dikwels in stryd is met die tydsgees en mense net eenvoudig rustig wil voortploeter en hul “gang wil gaan”. Niks moet hul bootjie skud nie en enige iemand wat teregwys word dikwels gesien as moeilikheid maker wat net ander se “vrede” wil versteur. Ons is rustig om die Christenskap wat vir ons werk “die een wat geen opoffering vra nie” te beoefen en konflik met die wêreld ten alle koste te vermy. Hierdie gedeelte wys ons weereens daarop dat vriendskap met die wêreld, vyandskap teen God is en God roep sy mense uit hierdie wêreld om heilig voor Hom te leef.
Die kring van die spotters
In die middel van hierdie aankondiging dat God Juda sal straf is die Here se hand op sy profeet om nie te wandel soos hierdie volk aan wie hy die boodskap moes oordra nie. Ook moes Jeremia hom afsonder van die volk vol spotters en met misnoeë gevul wees. Jeremia 15:17 Ek het nie in die kring van uitbundiges gesit nie, en ek was nie uitgelate nie. Vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met u verontwaardiging gevul. Die gelowige moet nooit gemaklik word in die wêreld se sonde nie. Daar moet ʼn renons by die gelowige wees wat gepaard gaan met ʼn haat en woede vir die sonde van die wêreld waarin hy hom bevind. Ons sien dit ook by Lot wat tussen die mense van Sodom en Gomorra gelewe het. 2 Petrus 2:7-8 en as Hy die regverdige Lot, diep gekwel deur die onsedelike leefwyse van beginsellose mense, gered het – die regverdige man het, terwyl hy onder hulle gewoon het, op grond van wat hy gesien en gehoor het, sy regverdige siel dag in en dag uit oor hulle wettelose optrede gepynig. Tog is dit hartseer dat nieteenstaande hierdie innerlike stryd Lot tog, nadat hy Abraham verlaat het, nader en nader aan Sodom beweeg het totdat hy binne die stad ʼn tuiste vir hom en sy familie gemaak het. Sy besluite sou sy familie se verwoesting bewerkstellig aangesien sy vrou so vasgevang was in Sodom dat haar verlange veroorsaak het dat sy terug gekyk het en in ʼn soutpilaar verander het. Sy skoonseuns, die manne wat hy met sy dogters sou laat trou, was manne van die wêreld en wou Sodom nie verlaat nie. Ons sien ook later dat hierdie dogters ook vasgevang was in die leefwyse van die mense van Sodom en Gomorra. Die wêreld moet ons altyd ontstel en ongemaklik maak. Miskien voor ons verder gaan moet ons mekaar afvra of ons steeds geskok is deur die wêreld se goddeloosheid en hardheid van hulle harte. Skok dit jou dat babas in die moederskoot vermoor word? Skok dit en ontstel dit jou dat twee vroue of twee mans kan dink dat hulle kan trou en nie net dit nie, ook kinders kan aanneem? Miskien is ons al te veel deur die wêreld gekondisioneer sodat dit wat God haat ons nie meer ontstel nie. Nee, die Skrif roep ons op om te haat wat God haat. Psalms 139:21 Sou ek u haters nie haat nie, Here, in hulle wat teen U opstaan, nie ‘n weersin hê nie? Ek haat hulle met ‘n intense haat; vyande het hulle vir my geword. So word die gemeente in Efese in Openbaring geprys, omdat hulle die dade van die Nikolaïete net soos God gehaat het. Openbaring 2:6 Maar dít tel in jou guns: Jy haat die dade van die Nikolaïete, wat Ek ook haat. Volgens oorlewering was hulle ʼn groep wat verkondig het dat jy kan leef soos wat jy wil aangesien God se genade oor jou is.
Verdagmakers
Die Here roep Jesaja en die regverdiges in die land op om nie die woorde te gebruik van die mense onder wie hulle gelewe het nie. Hierdie mense het van ʼn sameswering gepraat wat verwys het na Jesaja se prediking teen koning Agas se verdrag met die Assiriese ryk. Juda was ʼn teokrasie en moes net onder God se regering gestaan het. Enige verdrag of soeke na beskerming was taboe aangesien God met hulle ʼn verbond gesluit het en Hy aan hulle belowe het dat Hy hulle sou beskerm. Die oomblik as die profeet sou opstaan en teen buitelandse verdrae preek sou almal die profeet beskuldig van sameswering teen die koning. So was dit ook met Jeremia wat gesê het dat die volk in die hand van die Babiloniërs oorgee sal word, gesien as ʼn man wat moeilikheid, ontevredenheid en skeuring onder die volk bewerkstellig. Jeremia 38:3-4 …So sê die Here, Hierdie stad sal beslis oorgegee word in die hand van die leër van die koning van Babilonië, en hy sal dit inneem. Die hoë amptenare sê toe vir die koning: Hierdie man moet tog doodgemaak word! Op stuk van sake is hy besig om die hande van die krygsmanne wat nog in hierdie stad oor is, en die hande van die hele volk, lam te maak deur hierdie woorde vir hulle te sê. Ja, dié man soek nie vrede vir hierdie volk nie, maar teenspoed. Tog was hierdie twee profete besig met die belangrikste taak, nl. om die volk te waarsku teen hulle sonde en die gevolge van hulle sonde aan te kondig. Verder moes die regverdiges nie vrees wat die res van die volk vrees nie. Hulle was bang vir die twee noordelike weermagte en het angstig rondgegryp na iemand wat hulle sou help in plaas daarvan om hulle toevlug na God te neem. Die gelowige word opgeroep om net God te vrees. Sodra ons God vrees sal ons niks meer in hierdie wêreld vrees nie. Die vrees vir mense en wat mense sal sê of dink hoort nie by die gelowige nie. Geen dreigement, van watter aard ook al, maak die gelowige angstig nie. Ons is soos Dawid wat Goliat aan sy God meet en die reus verdwyn. Die vraag wat jy moet antwoord is: “Hoe groot is jou God?” Luister na die woorde van die Psalmdigter as hy sy God beskrywe. Psalms 18:28-30 Ja, dit is U wat ‘n magtelose volk verlos en trotse oë verneder; dit is U wat my lig laat skyn, Here. My God verlig my donkerte. Ja, met U hardloop ek ‘n bende tegemoet, met my God spring ek oor ‘n muur. As God jou hoop is en as jy vrede in Hom het ten spyte van wat rondom jou gebeur, kan jy volgens die Skrif beslis weet dat die wêreld jou sal vra waar jou vrede en jou hoop vandaan kom. 1 Petrus 3:15 Inteendeel, eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Ons is so anders in ons denke en ons optrede en daarom staan ons uit soos ʼn paal bo die water in hierdie wêreld. Hulle beskou ons as vreemdelinge en bywoners aangesien ons ambassadeurs is van ʼn wêreld waarvan hulle onbewus is.
Skuiling of struikelblok
Vir elke persoon wat God heilig in sy lewe sal Hy vir ʼn heiligdom wees. Om Hom te heilig beteken om Hom groot te maak deur jou lewe van heiligheid en toegewydheid aan Hom. Hoe meer jy toegewyd aan Hom is en hoe meer jy tot die besef kom dat Hy die grootste rede vir jou lewe is, hoe meer sal jy Hom heilig. Vir hierdie persoon word Hy die mure van beskerming waarin hulle in veiligheid en vrede lewe ten spyte van die aanslae en die beproewinge in hierdie wêreld. In teenstelling met wat Hy vir die gelowige is, is Hy ʼn steen waarteen ongelowiges hulle sal stamp en wat hulle sal vernietig. Die rots waarby die gelowige skuil is die rots wat die ongelowiges sal vernietig. Hulle probeer sy opdragte ignoreer en daarom sal hulle oor Hom struikel soos ʼn mens struikel oor ʼn rots. Die wat hulle fokus op Hom plaas sal nie struikel nie. Psalms 91:12 Op die hande sal hulle jou dra, sodat jou voet nie teen ‘n klip stamp nie. Die klip word in die pad van die mense van Juda geplaas en vir diegene wat daarop ag slaan word die klip hulle beskerming en vir diegene wat nie daarop ag slaan nie word dieselfde klip ‘n struikelblok. Petrus bou voort op hierdie teks en elkeen wat die waarskuwing van Jesaja verstaan, verstaan soveel meer waartoe Petrus die gelowige oproep. 1 Petrus 2:7 Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword, en ‘n klip waaroor ‘n mens kan struikel, ja, ‘n rots wat jou kan laat val. Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem. Hierdie metafoor word deur Jesus en Paulus gebruik aangesien hierdie steen na Christus verwys. As Simeon, die man wat bely dat hy nou maar kan sterf aangesien hy die Here se heil gesien het, baba Jesus in sy arms hou maak hy die volgende uitspraak oor hierdie Kind se lewe. Lukas 2:34-35 Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as ‘n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan. Hierdie getuienis moes Jesaja toebind en die wet verseël in die hart van God se leerlinge. Die uitverkorenes onder God se volk sal ag slaan op God se woorde deur Jesaja en sal sy woorde in hulle harte opneem en dit nakom. Net so het Jesus aan die wat na hom luister gespreek aangaande die gelykenisse wat Hy aan hulle vertel het. Matteus 13:12-13 Want wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloed hê; maar van wie nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. Daarom praat Ek met hulle deur gelykenisse, omdat hulle siende blind en horende doof is en dus nie verstaan nie. Die gelowige sal altyd God se woorde in sy hart vashou en daarvolgens leef. Aangesien die gelowiges ag sal slaan op God se Woord sal hulle vrede groot wees, soos wat ook later weer in Jesaja bely sal word. Jesaja 54:13 En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.(Ou vertaling).
Uitverkorenes
God belowe dat hy sy aangesig van die volk sal verberg. Ten spyte hiervan verkondig Jesaja dat hy en die kinders wat God hom gegee het, die uitverkorenes aan Hom gehoorsaam sal wees en hulle hoop op Hom sal vestig. Hierdie vers sal die Hebreërs skrywer ook verbind met Christus. Hebreërs 2:13 En ook: Ek sal my vertroue steeds in Hom stel. En ook: Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het! Diegene wat op Jesaja se woorde sou ag slaan, net soos diegene wat op Christus se woorde sou ag slaan, is diegene wat God aan hulle gegee het. Johannes 17:6 Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam. Die boodskap van Jesaja, net soos die boodskap van Christus, sou uitgaan in die wêreld, maar slegs die wat aan God behoort en deur Hom uitverkies is sal die boodskap aanvaar en hulle alleen sal hierdie boodskap vashou en deur God vasgehou word.
Kennis van die Woord
Die gelowiges van die volk word opgeroep om nie na die valse profete en die wat valse boodskappe verkondig te luister nie. Hulle moes alles wat mense sê toets aan die wet en die getuienisse van God in die Woord. As iemand sou spreek wat nie in die Woord is nie moes hulle nie na hom luister nie. Miskien is die grootste probleem nog steeds vandag dat so baie wat bely dat hulle gelowiges is nie God se Woord ken nie en daarom word hulle so maklik mislei. Hosea 4:6 My volk kom om weens ‘n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy nie meer vir My priesterdiens doen nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou seuns vergeet. Al is die Bybel in die meeste huise te vinde is dit sekerlik die boek wat die minste deurgelees word van alle boeke. As jy antwoorde soek in jou lewe of wil weet wat God van jou vra gaan na die Skrif en vind die antwoord op al jou geestelike vrae. In Sy Woord vind ons die Lig vir ons pad. Psalm 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.
Verhard
Hierdie volk wat nie gehoor gegee het aan God se Woord nie sal verwaarloos wees en sal honger wees, alles uitdrukkings van hierdie volk se totale vernietiging en hulle ballingskap. A.g.v. dit wat God oor hulle sal bring sal hulle in plaas daarvan om hulle te bekeer Hom vloek. Hoe maklik gee die mens nie aan God die skuld vir hulle eie sondige dade en die gevolge van hulle eie bandelose lewens nie. Soos Kain is hulle nie hartseer oor hulle sonde nie, maar eerder oor die gevolge van hulle sonde. Genesis 4:13-14 Kain het vir die Here gesê: My straf is te swaar om te dra. Kyk, U verdryf my vandag van die grond af, en vir U sal ek moet wegkruip. Ek sal ‘n doellose swerwer word op die aarde, en elkeen wat my teëkom, sal my doodmaak. Hulle kyk op en soek hulp maar op al die verkeerde plekke. Hulle lewens sal kenmerkend wees van mense wat in die donker wandel en oor alles struikel. Hulle sal val en hulle beseer en tog sal hulle hulle nie bekeer en toevlug neem na die enigste Verlosser nie. (vers 23 is deel van Hoofstuk 9 en sal in die volgende blog hanteer word.)
Slot
Wandel in God se lig en heilig Hom deur jou lewe. Lees die Woord en slaan ag op die waarhede, voorskrifte en beloftes wat God daarin aan elkeen wil gee. As uitverkorenes van God maak die Heilige Gees hierdie woorde aan ons bekend en bewaar Hy dit in ons hart. Wanneer ons deur beproewing gaan is Hy die een wat hierdie woorde weer aan ons preek in die dieptes van ons siel. Hou vas, moenie vrees nie, moenie deel word van hierdie wêreld nie, en ja, al word jy gesien as ʼn moeilikheidmaker, preek die Woord van God tydig en ontydig, want diegene wat daartoe geroep is sal daardeur gered word en ook by die Rots, wat vas staan tot in ewigheid skuiling kan vind.
