Salomo word Koning.

Na Dawid het sy seun Salomo koning geword. Koning Salomo het na Gíbeon toe gegaan om offers te bring, want dit was die belangrikste offerplek. Hy het daar duisend brandoffers gebring.

In Gíbeon het die Here in die nag aan Salomo in ’n droom verskyn. God het gesê:
“Vra wat Ek vir jou moet gee.”

Salomo het geantwoord:
“U het groot trou bewys aan my vader Dawid, omdat hy opreg en gehoorsaam aan U was. Nou het U hom ‘n seun gegee om op sy troon te sit. Ek is nog jonk en weet nie hoe om te regeer nie. U volk is groot, soveel dat hulle nie getel kan word nie. Gee daarom aan u dienaar ’n gehoorsame hart om u volk te oordeel en om tussen goed en kwaad te onderskei.”

Die Here was bly oor wat Salomo gevra het. God het vir hom gesê:
“Omdat jy nie lang lewe of rykdom of die dood van jou vyande gevra het nie, maar wysheid om reg te oordeel, sal Ek jou gee wat jy gevra het — ’n wyse en verstandige hart, soos daar voor jou nog nie was nie. Ek sal jou ook gee wat jy nie gevra het nie — rykdom en eer — en as jy My wette gehoorsaam, sal jy lank lewe.”

Toe het Salomo wakker geword en besef dit was ’n droom. Hy het na Jerusalem teruggegaan, voor die verbondsark van die Here gestaan en offers gebring.