Inleiding
Dit waarna elke gelowige uitsien het uiteindelik aangebreek! Elke gelowige is opgewek en het ʼn nuwe verheerlikte liggaam ontvang en sal nou verewig woon saam met God in Sy nuwe skepping, waar geen traan meer sal vloei nie. Die ou hemel en aarde sal tot ʼn einde kom en alles sal nuut geskep word. Die hemel verwys na die blou hemel soos wat ons dit tans sien. Hoe dit presies gaan lyk kan niemand beskryf of weet nie, maar ons weet dat die son, maan en aarde soos ons dit ken nie meer sal bestaan nie. Die nuwe hemel en aarde wat God sal skep is ʼn aanhaling uit Jesaja. Jesaja 65:17 Ja, Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Aan die vroeëres sal nie meer gedink word nie; dit sal nie in mense se gedagtes opkom nie. Hierdie nuwe wêreld is wat ons as gelowiges in ons geestes oë sien as die Hemel, waar God die middelpunt van alles is en die bron van alle lig. Openbaring 21:23 Ook het die stad nie die son en die maan nodig om haar te verlig nie, want die heerlikheid van God het haar verlig, en die Lam is haar lamp.
Nuwe Skepping
Paulus skrywe van hierdie herskepping in Romeine as hy vir gelowiges vertel dat die Skepping uitsien na hierdie dag van totale vernuwing aangesien hulle aan nietigheid onderworpe is. Romeine 8:20-21 Want die skepping is onderwerp aan ‘n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. Die woord vir nuwe in die Grieks καινός het te make met ʼn kwalitatiewe verskil. Die Skepping sal dus nou nie meer aan verganklikheid onderworpe wees nie. Net so sal ons nuwe liggame ontvang wat anders en beter is as ons ou liggame, maar wat steeds herkenbaar is. Hier kan ons na voorbeelde gaan kyk van Christus se liggaam na sy opstanding en hoe sy volgelinge hom herken het. Ons kan byvoorbeeld na die Emmausgangers wie se oë verhinder is om Christus te herken, maar toe hulle oë oopgemaak word herken hulle Hom onmiddellik. Lukas 24:31 Toe is hulle oë geopen, en hulle het Hom herken. Hy het egter uit hulle sig verdwyn. Ons kan ook na Jesus se verhaal van Lasarus en die rykman kyk en sien hoe die rykman Lasarus in die doderyk herken het. Hierdie nuwe liggame sal nie meer hartseer wees, pyn ervaar of aan die dood blootgestel wees nie. Openbaring 21:4 Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ‘n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan. Dit bevestiging ook ‘n verdere profesie van Jesaja aangaande die nuwe hemel en aarde. Jesaja 65:19 Ek sal oor Jerusalem juig
en oor my volk bly wees. In haar sal die klank van gehuil nie weer gehoor word nie, ook nie die klank van ‘n geroep om hulp nie. Ons nuwe liggame sal dus kwalitatief beter wees as ons ou verganklike liggame, net soos die res van die skepping.
In hierdie skepping sal daar nie meer ʼn see wees nie. Die see word in Openbaring uitgebeeld as iets negatief. Dit is die plek waaruit die dier, die antichris, kom, die plek waar die dooies is, die plek vanwaar die rebelse nasies wat lyding vir die gelowiges veroorsaak kom, die plek waarop die goddelose mense sal handel dryf. Dus word dit deur Openbaring as die plek van chaos uitgebeeld, ʼn plek waar daar nie vrede is nie. Dit sal ook nie meer skeiding maak tussen die nasies nie aangesien mense van alle nasies nou sal saam woon. Openbaring 21:24 En die nasies sal leef in haar lig, en die konings van die aarde sal hulle heerlikheid na haar toe bring.
Die Bruid vir die Bruidegom
Die ou Jerusalem sal ook verander word en nou genoem word die “Heilige stad Jerusalem”. Dit het die voorkoms van ʼn bruid wat versier is en gereed gemaak is vir haar man. Hierdie plek wat bekend was vir haar ontrouheid en afvalligheid sal nou die plek wees waar die bruid van Christus as ʼn nuwe volk in die teenwoordigheid van die bruidegom sal lewe – sonder enige vlek of rimpel; getrou vir ewig en altyd. Hy sal tabernakel by ons maak en vir ewig by ons woon. Dit was die plek waarna die Ou Testamentiese gelowiges volgens Hebreërs uitgesien het. Hebreërs 11:13-16 Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. Want dié wat sodanige dinge sê, gee te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland. En as hulle nog aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer; maar nou hunker hulle na ‘n beter een, ‘n hemelse een. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad voorberei.
So word die kerk ook elke dag voorberei om die bruid van Christus te wees. Efesiërs 5:25-27 Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het, sodat Hy haar kon heilig, deurdat Hy haar gereinig het deur die was met water en die woord. Dit het Hy gedoen, sodat Hy vir Homself die kerk in heerlikheid daar kan stel, sonder vlek of rimpel of enigiets dergeliks, heilig en sonder smet. Elke dag in ons wandeling saam met Hom word ons verander en vernuwe om ʼn pragtige bruid te wees vir Christus. Daarom wil ons nie hê dat sonde op ons ʼn houvas moet hê nie. Ons begeer om elke dag ons sonde te bely en gereinig te word. Die grootste gevaar vir die gelowige is dat hy/sy soos die vrou in Hooglied, wat die kerk uitbeeld, so besig kan wees met die wêreld se dinge dat sy nie onmiddellik die deur vir haar beminde oopgemaak het nie. Hooglied 5:2-3 Ek was aan die slaap, maar my hart was wakker.Hoor daar! My liefste klop! “Maak vir my oop, my suster, my liefling, my duif, my volmaakte; my kop is nat van dou, my lokke deurdrenk van die nag se dou.” Ek het my oorkleed al uitgetrek, moet ek dit weer aantrek? Ek het my voete al gewas, moet ek dit weer laat vuil word? Hoe wil ons nie hierteen waak nie! Niks is belangriker as ons bruidegom nie. Sy waarde is onmeetbaar.
Die Alfa en Omega
Hy word weer in Openbaring genoem die alfa en die omega aangesien Hy alles wat Hy belowe het sal waar maak. Die gelowige sal nooit weer dors wees nie, aangesien ons sal drink van die lewende water – verniet. Dit was dan ook die belofte wat Jesus gemaak het aan die vrou by die put in Johannes 4. Sy het ʼn dors gehad, maar het dit probeer bevredig met mans aangesien sy al vyf gehad het en die een wat sy nou gehad het nie eers haar man was nie. Vir hierdie vrou belowe Jesus dat as sy van die water drink wat Hy vir haar sal gee sy nooit weer dors sal wees nie. Johannes 4:14 maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe. Dit was dan ook die belofte wat God deur Jesaja gemaak het. Jesaja 55:1-2 Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk! Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie, en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie? As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig.
Die volledige vervulling hiervan sal eendag in die nuwe hemel en aarde plaasvind. Ons ervaar nou al as kinders van die Here ʼn gedeeltelike vervulling van hierdie belofte, maar eendag in die Hemel sal hierdie belofte volledig vervul word. Die dag wanneer ons Hom van aangesig tot aangesig sal sien, al ons trane afgedroog sal wees en daar geen lyding en dood meer sal wees nie.
Oorwinnaars
Hierdie dinge sal net waar word vir hulle wat oorwin het. Hulle wat oorwin is diegene wat nie in hulle lewens kompromieë gemaak het nie. Een van die verrassende eienskappe, van diegene wat in die brandende poel van vuur en swael gegooi sal word is lafhartigheid. Die lafhartiges is diegene wat bang is. In die verhaal waar God Gideon opgeroep om oorlog te voer teen die Midianiete, sê God dat daar te veel mense is en dat Gideon almal wat bang is moes laat terug draai na hul huise. God se weermag kan nooit opgebou word uit lafhartige manne en vroue nie. In Dawid se weermag was dapper manne waarvan vertel word dat hulle niks gevrees het nie. Een van hulle was bereid om alleen te staan in ʼn land vol lensies teen die vyand terwyl die res van sy manskappe gevlug het. 2 Samuel 23:11-12 Ná hom was daar Samma, seun van Agee, uit Harar. Die Filistyne het byeengekom in ‘n kamp waar daar ‘n stuk land vol lensies was. Toe die manskappe voor die Filistyne uit vlug, het Samma stelling ingeneem in die middel van die land en dit teruggevat. Hy het die Filistyne verslaan, en die Here het ‘n groot oorwinning bewerk. Een van hulle was bereid om af te gaan in ʼn opgaar put om ʼn leeu dood te maak. 2 Samuel 23:20 Dan was daar Benaja, seun van Jojada, ‘n onverskrokke man uit Kabseël wat groot dade gedoen het. Hy is die een wat die twee manne van Moab, manne met leeuemoed, verslaan het. Dit is hy wat op ‘n dag toe dit gesneeu het, binne-in ‘n opgaarput afgegaan en ‘n leeu neergevel het. Hierdie was vreeslose manne. As Jesus die gelykenis van die saaier vertel, vertel hy dat van die saad op ʼn klipbank val. Die klipbank verteenwoordig die groep mense wat weg val as daar verdrukking en vervolging kom. Hulle is opgewonde oor die boodskap in soverre dit nie enige prys van hulle vra nie. So sien ons ook vir Petrus voor die uitstorting van die Gees vreesbevange vir ʼn diensmeisie as hy ontken dat hy Jesus ken. Op pinksterdag verander ʼn bangbroek Petrus in ʼn man wat voor duisende die evangelie kan verkondig. Paulus was ʼn man wat geen mens gevrees het en nie sy lewe belangrik geag het nie. Filippense 1:21 Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins. Niemand moet dink dat hulle die nuwe aarde sal beërwe as hulle in vrees lewe vir familie of vriende, kollegas of bure nie. Vir die meerderheid in die Weste is die vrees wat hulle ervaar bloot vir ʼn skewe kyk of ʼn skewe woord. Die vroeë kerk, net soos die gemeentes in Openbaring, word gewaarsku om nie te vrees nie en nie bang te wees vir diegene wat ons vervolg en dood kan maak nie. Matteus 10:28 En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. Hierdie groep mense wat nie gevrees het wat die wêreld aan hulle kon doen nie, maar God vreesloos gedien het, word die oorwinnaars genoem aan wie Jesus soos die gemeente in Efese belowe het “Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe wat in God se paradys staan.” Openbaring 2:7.
Die Ongelowiges
Saam met die lafhartiges word al die ander mense genoem wat nie deel sal hê aan die nuwe hemel en aarde nie. Openbaring 21:8 Maar vir die lafhartiges, ongelowiges, losbandiges, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is die brandende poel van vuur en swael; dit is die tweede dood. Die woord vir towenaars is φαρμακός (pharmakos) waarvandaan die woord pharmacy in engels kom. Towenaars kan ook gesien word as die mense wat ander met valse tekens en wonders verlei, soortgelyk aan die towenaars van Egipte wat ook die eerste twee van die plae in Egipte kon namaak. So waarsku Jesus ook dat daar baie valse profete sal opstaan wat wonders en tekens sal doen. Matteus 24:24 Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei. Baie mense in kerke sal onder hierdie manne en vroue se beswyming wees en alles wat hulle verkondig vir soetkoek opeet. Daarom sluit hierdie lys ook af met die leuenaars. Hulle is die valse profete soos Bileam wat na ʼn aardse beloning gehunker het. 2 Petrus 2:15 Omdat hulle die reguit pad verlaat het, het hulle verdwaal, en hulle begewe op die pad van Bileam, die seun van Bosor, wat lief was vir onregmatige loon. Daar is vandag duisende mense in verskillende kerke wat mense navolg en na valse leraars se verdraaiing van die Evangelie luister net omdat hulle ook op soek is na die aardse in plaas van die hemelse beloning. 2 Timoteus 4:34 Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend. Pasop daarom vir die opinie en konsensus van die meerderheid. So dikwels hoor ek mense valse lering verdedig met die woorde “Maar baie kerke glo dit so!” Ons kan verseker wees dat dit altyd die minderheid sal wees wat aan God se Woord sal vashou. Daarom moet jy alles toets aan die Woord. Moenie kompromieë maak met die wêreld nie en staan op vir die waarheid en verkondig die woord. 2 Timoteus 4:2 Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, weerlê, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering.
Slot
Moenie bang wees nie. Moenie lafhartig wees nie. Moenie die beloning uit die oog verloor en fokus op die wêreld nie. Hou vas aan die Woord en aan God se beloftes en jy sal die beloofde land, die nuwe Hemel beërwe.
