Jesaja 16:1-14

Inleiding

Die profesie aangaande Moab gaan in hierdie hoofstuk voort. Dit is asof Jesaja die gesprek van die leiers van Moab afluister en ons hoor hoe paniekbevange hulle is. Elkeen se plan is iets anders en jy hoor hoe verbouereerd hulle is. Wat is hulle plan? Hulle sou ʼn huldeblyk aanbied deur lammers te stuur na Sion. Dit is baie interessant dat hierdie manne van Moab weet waarheen die huldeblyk moes gaan. Dit moes gaan na die berg van die dogter van Sion, daar waar die tempel gestaan en die Here gevind kon word. Vroeër het hulle dit na Samaria gestuur. 2 Konings 3:4 Mesa, die koning van Moab, was ‘n skaapteler. Hy moes honderdduisend lammers en honderdduisend ramme se wol aan die koning van Israel lewer. Die Woord leer ons dat mense kan weet daar is ʼn God deur net na alles rondom hulle te kyk en tog verhard hulle hulle harte. Romeine 1:19-20 aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging. Die tragedie van Moab is dat hulle van beter moes weet, aangesien hulle nie net uit die algemene openbaring van God in die natuur, maar ook van hulle voorvader Lot moes verneem het dat daar net een God is. Hulle sou die verhale gehoor het van hoe hulle vader moes vlug uit Sodom en Gomorra, aangesien God hierdie volk verwoes het as gevolg van hulle sonde.

Vlugtelinge

Die mense van Moab is soos voëls wat rond fladder aangesien hulle nes verwoes is. Die vroue is die wat die ergste geraak word in oorlog. Hierdie eens hoogmoedige volk word nou vlugtelinge en moet nou om ontferming pleit. Hoe waar is die spreekwoord nie: Spyt kom altyd te laat. Die Moabiete lê ʼn pleidooi voor die mense van Juda om hulle te beskerm en hulle nie uit te lewer aan hulle vyande nie. Hulle vra dat Sion se skaduwee oor hulle moes kom. Die ironie is dat eens op ʼn tyd Israel ook by hulle gevra het om in vrede deur hul gebied te gaan en tog het die Moabiete geweier. Nou is die bordjies verhang.

Wat sal God se opdrag aan sy volk wees? Hulle kry die opdrag om aan die Moabiete skuiling te gee. God gee hierdie opdrag deur die Tenach(Ou Testament) dat daar na die vreemdeling omgesien moet word. Eksodus 22:21 ‘n Vreemdeling mag jy nie mishandel of verdruk nie, omdat julle vreemdelinge in Egipteland was. So moes die wette van die land dieselfde wees vir die inwoners van die land as vir die vreemdeling. Eksodus 12:49 Dieselfde wet geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge wat tydelik tussen julle is. Dit is dan ook opmerklik dat die konings van Israel bekend was vir hulle Gesed(ḥeseḏ) wat ons in Engels vertaal as “lovingkindness” en wat in Konings as “welwillendheid” vertaal word. 1 Konings 20:31 Sy amptenare sê toe vir hom: Kyk, ons het gehoor dat die konings van die huis van Israel welwillende konings is. Kom ons bind rouklere om ons heupe en toue om ons koppe en gaan uit na die koning van Israel. Miskien spaar hy u lewe. Hierdie woord word deur die Psalmdigter herhaaldelik vir God gebruik. In Psalm 86 word dit vertaal as “troue liefde”. Psalms 86 Maar U, my Heer, U is ‘n barmhartige  en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid. So is die opdrag aan die gelowige om altyd met barmhartigheid op te tree teen die verstote en arm persoon. God sal rekenskap eis van enige persoon wat nie barmhartigheid bewys nie. Jakobus 2:13 Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.

Getroue regter

Hierdie verhaal moes beslis enige leser wat die Tanach ken herinner het aan ʼn ander verhaal. Jare terug, in die tyd van die rigters voor daar ʼn koning in die land was, was daar ʼn verhaal van ʼn Moabiet wat skuiling in Israel kom vind het. Haar naam was Rut, ʼn Moabitiese vrou. ʼn Man uit Betlehem uit die stam van Juda, Boas, ontferm hom oor hierdie vrou en sorg dat sy skuiling op sy land vind. Rut 2:8-9 Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, jy hoef nie in ‘n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers, kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep. Vanuit hierdie nageslag van Boas en Rut sou die ware barmhartige regter opstaan. Vers 5 vertel ons van hierdie Een wat sal heers in geregtigheid en getrouheid. Is dit nie ʼn wonderlike beskrywing van Jesus nie!? Die psalmdigter vertel van hierdie heerskappy van waarheid of getrouheid en geregtigheid wat mekaar ontmoet. Psalms 85:11 Troue liefde en waarheid ontmoet mekaar, geregtigheid en vrede omhels mekaar. Hy sou mense uit verskillende volke onder sy vleuels laat skuiling vind. Hiervan profeteer Kajafas in sy eie onverskilligheid en onkunde. Johannes 11:52 en nie net vir die volk nie, maar ook om die kinders van God wat oral verstrooi is, te verenig. Hierdie koning sal in geregtigheid heerskappy uitvoer.

Hoogmoed kom tot ʼn val

Dan beweeg die profesie weer terug na die toestand waarin Moab verkeer het voor hulle nederlaag. ʼn Land vol hoogmoed en eiewaan. Nou is hulle verwoes en die hele Moab is in sak en as. Die stad wat hier genoem word is alreeds verwoes in Jesaja 15:1. Alles wat vir hulle ʼn genot was is nou vernietig en wys op die totale verarming van hierdie mense. Soos aangetoon in hoofstuk 15 huil en treur Jesaja ook , net soos die mense van Moab, oor hul toestand.  Sy hele ingewande is in rou en die geween van sy ingewande word uitgedruk met die klank van ʼn viool. Die vreugdegeroep van die wat druiwe getrap het is verby en daar is geen meer wyn in die parskuipe nie. Weereens, soos in hoofstuk 15, word daar melding gemaak van die Moabiete se soeke na hulp by hul afgode – hulp wat nooit sou kom nie en dooie afgode wat geen oplossing kan bied nie. Jesaja beeld hierdie mens so goed uit as mense sonder enige wysheid.  In hul aanbidding van hul afgode sal hy vertel hoe hulle hulle afgode skep uit dieselfde hout as wat hulle vir brandhout gebruik het. Jesaja 44:16-17 Die helfte daarvan verbrand hy in ‘n vuur; op hierdie helfte is vleis wat hy kan eet; hy braai dit en word versadig. Hy maak hom ook warm en sê, A! Ek word warm; ek sien die gloed van ‘n vuur! En die res daarvan verwerk hy tot ‘n god, tot sy afgodsbeeld. Hy kniel daarvoor neer, buig daarvoor in aanbidding, aanbid dit en sê, Red my, want u is my god!

God sou hierdie land in drie jaar totaal uitwis. Hierdie datum was vas en niemand kon daaraan verander nie. In teenstelling met die Babiloniërs sal God hierdie volk nie totaal vernietig nie. Die oorblyfsel sal gered word op grond van God se groot genade en nie a.g.v. enige iets in hulle nie. Hierdie oorblyfsel is soortgelyk aan dit wat God te alle tye aan die Joodse volk belowe. Elke keer as God hulle oordeel belowe Hy dat ʼn oorblyfsel sal oorleef. Hierdie oorblyfsel getuig van God se getroue liefde aan hulle.

Slot

Die tragiese van al die volke deur die Bybel en meer spesifiek die Jode, wat van beter moes geweet het, is dat hulle die God van goedertierenheid of troue liefde verlaat het en afgode nagejaag het. Sonder God is die mens niks. Alles wat ons het kom van Hom en wanneer die mens dit vergeet volg hoogmoed en eiewaan en dan die groot val. Ons aanbid nie meer beeldjies van hout en klei nie, maar denkbeeldige beelde van geld, sukses en sekuriteit. Die mens probeer van God af wegvlug om sodoende sy eie god te kan wees net om agter te kom die God van die heelal is in beheer oor alles. In ʼn oogwink sien jy hoe nutteloos jou afgode is. Jona het ook van hierdie God probeer wegvlug en terwyl hy in die grootvis se maag is maak hy hierdie belydenis: Die wat nietige afgode vereer, verlaat die Een wat vir hulle goedertieren is. Jona 2:8. Hier word weereens die woord Gesed(ḥeseḏ) gebruik. Aan die kruis van Golgota sien ons hierdie Gesed die beste en die mooiste. Jesaja 53:5 Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing. Hy alleen is God en Hy alleen is getrou en regverdig.

Laat 'n boodskap